So, here's the GOOD NEWS...

SOILL > News > Archive > Distriksoorsig Junie 2013

Toestande

Sedert die vorige nuusbrief se skrywe waar ons lekker reën gehad het oor die grootste verbouingsareas, het dinge so bietjie verander. In kort, die Suid-Kaap (Swellendam tot by Albertinia) kort reën…Canola’s is steeds onder omstandighede baie mooi, maar wissel maar tussen die area. Die warm bergwind toestande wat die afgelope tyd ondervind is het egter die grond verder uitgedroog.

Die Overberg (Swellendam tot by Caledon) is dit nie so erg droog nie, met grond wat steeds vog bevat, maar ook hier sal reën baie welkom wees. Die meeste Canola’s in die areas is effens later as bogenoemde en is steeds baie mooi.

In die Swartland kan die Canola stand baie goed opgesom word met die woord oneweredig. Na die lekker reën wat ondervind is begin Junie het die Canola wat nog nie opgekom het nie ontkiem, dus is daar kampe wat baie oneweredig is met groot plante en piepklein plante. Dit kan natuurlik bestuur ten opsigte van onkruidbestryding, kopbemesting asook bestuur by oestyd bemoeilik, maar eerder bestuur bietjie aanpas as geen plante te hê om te bestuur nie! Verder is dit ook baie nat met produsente wat nie in die lande kan inkom om onkruid te spuit of kopbemesting te gee nie.

Peste en Plae

Omdat die areas so drasties verskil is dit moeilik om spesifiek te wees wat tans in jou spesifieke area bedrywig gaan wees, maar ondergenoemde sal vir die vroeër areas van toepassing wees waar canola al begin blom.

Koolluise op Canola

Waar Canola al begin blom begin luise hulle kop uitsteek, veral in areas waar plante onder stres kan verkeer of/op warmer gronde/kampe. ʼn Algemene riglyn wat gevolg kan word vir die bepaling van wanneer bespuit moet word is wanneer 20% van plante besmet is en die boonste deel van stingel wat besmet is ongeveer 2 tot 3 cm lank is. Koue toestande sal die voorkoms van die luise verminder en die opbou van populasies verminder.

 Koolluis1 Koolluis2 Koolluis3

Figuur 1: Koolluis op Canola blomme

Ruitrugmot

Ruitrugmotte word opgemerk in die Heidelberg omgewing, wat beteken die wurms sal binnekort hul verskyning maak.   Die volwasse ruitrugmot is ‘n donker grys mot met drie vaal driehoekige strepe op die binne sy van elke voorvlerk, wat ‘n diamant- of ruit patroon vorm wanneer die vlerke toegevou is. Van vlerk punt tot vlerk punt is die mot maar 15mm lank.

Die motte is snags aktief. Teen skemer, direk nadat die motte uit die kokon van sy papiestadium tot volwassenes ontwikkel het, vind paring plaas waarna die wyfie, oor ‘n tydperk van vier dae, eiers lê. Sowat 200 klein, ovaalvormige geel eiers word onderaan of soms bo-op die blare van die gasheer plante gelê, maar selde op takkies of stingels. Eiers word enkeld of in groepies na-aan die hoof- of sy are van die blaar gelê.

Uit die eiers ontwikkel klein groen larwes (ruspes), sowat 2mm lank, wat dadelik begin voed. Die larwes voed gewoonlik net onderaan die blare. As hulle versteur word, wikkel hulle hulself na die rand van die blaar waar hulle dan afval, maar deur middel van ‘n sy-draadjie, wat uitgeskei word tydens die val, aan die blaar geheg bly. Die ontsnappings gedrag is ‘n manier van selfbeskerming teen natuurlike vyande. Larwes voed op die parenchiematiese weefsel onderaan die blaar sodat net die are en die boonste epidermis oorbly en so die kenmerke venstertjies op die blare vorm wat skeur en gate word soos die blaar groei.

Larwes is teen die vierde instar volgroeid en spin dan ‘n kokon waarin hulle pupeer. Die kokon word of op die blaar waar hulle gevoed het, of onder by die basis van die plant gevorm. Die volwassene (mot) ontpop uit die papie teen laatmiddag, en het ‘n kort leeftydperk. Die lewenssiklus tydsduur word deur temperatuur beïnvloed. Van eier tot volwassene duur sowat twee weke in die somer, en drie tot vyf weke in die koeler temperature van herfs en lente en tot twee maande in die winter (http://www.proteinresearch.net/index.php?dirname=html_docs_005crops/05500canola/05500radio_programs/00100rsg_2006_D20100219.php&programname=siekte03&print=y).

Bepaling van infestasie word as volg gedoen:

  • Loop in sirkel patroon deur die land
  • Begin ongeveer 10 tot 15 meter vanaf kant van land en stop elke 20 tot 25 meter intervalle
  • Neem ʼn toevallige plant en skud in ʼn houer (ʼn 25 liter emmer werk goed)
  • Tel alle larwes langer as 3 mm

Die volgende drumpelwaardes kan as ʼn aanduiding geneem word (Dit is slegs ʼn aanduiding en sal verskil tov toestande):

Middel tot laat blomstadium:          17 tot 23 larwes per 10 plante

Peulvul:                                                43 tot 57 larwes per 10 plante

 

07_ruitrugmot_larwe

Figuur 2: Die Ruitrugmot, die larwe asook die kokon, vreetskade word op die peule aangetref (Foto: PJA Lombard)

Canola wêreldwyd

 

Hier onder volg ʼn paar interessante brokkies oor canola verbouing wêreldwyd:

Oppervlakte

Figuur 3: Oppervlakte onder Canola / Raapsaad

 http://www.indexmundi.com/agriculture/?commodity=rapeseed-oilseed&graph=production

Kanada is die grootste verbouer van Canola met 8.58 miljoen hektaar gedurende 2012, die kultivars wat verbou word in China en Indië is meer Raapsaad georiënteerd en is nie 100% vir menslike gebruik soos in die geval van  Canola in Kanada, Australië en Suid-Afrika nie. Suid-Afrika se aanplanting vir 2012 was 44 100 hektaar.

Tonha

Figuur 4: Opbrengs per hektaar

http://www.indexmundi.com/agriculture/?commodity=rapeseed-oilseed&graph=production

Hierdie grafiek is baie interessant aangesien Suid-Afrika se opbrengs van die hoogste tussen die lande is, behalwe natuurlik vir Europa. Dit wys net weer watter uitsonderlike seisoen ons gehad het in 2012. Kanada aan die ander kant het weer tydens 2012 ʼn swak seisoen beleef.

 

Relevante datums in die nabye toekoms

8 Augustus 2013                                 Bewaringslandbou Konferensie

22 Augustus 2013                              SKOG Boeredag

29 Augustus 2013                              Roodebloem Boeredag

4 September 2013                             Riversdal Boeredag

18 tot 20 September 2013             Megaweek Bredasdorp

FOLLOW US