Canola is al as die kroonprins van alternatiewe wisselbougewasse in die Wes-Kaap beskryf. Tog het die verbouing daarvan skynbaar 'n plafon bereik. In hierdie artikel word die heilsaamheid van hierdie veelsydige oliegewas weer in oënskou geneem.
STORIE
Min twyfel bestaan dat met weinig alternatiewe wisselbougewasse tot Swartlandse saaiboere se beskikking behoort Canola 'n groot uitkoms vir die meeste van hulle te wees. Daar is immers steeds 'n positiewe benadering jeens die olieryke gewas by talle boere te bemerk.
Trouens, talle boere erken ruiterlik dat Canola vir hulle 'n groot uitkoms is weens die weinige alternatiewe wisselbougewasse tot hul beskikking in die streek.
Weens die gevaar dat siektes kan opbou, is daar slegs beperkte ruimte in die Wes-Kaap vir die verbouing van Canola beskikbaar. Vier jaar moet verloop alvorens Canola weer op diesefde grond verbou kan word. Die verhouding van Canola tot kleingraan sal dus altyd in die omstreke van 1: 4 wees. Die potensiële verbouingsruimte vir Canola in die Wes-Kaap is dus tot slegs tot 100 000ha beperk.
Soos met enige nuwe gewas was daar aanvanklike groeipyne met verbouing. Namate dit grootliks oorkom was, het die oppervlakte onder verbouing binne enkele jare meer as verdubbel om 'n plafon van ongeveer 40 000ha te bereik. Met die draai van die eeu het die syfer nog op minder as 20 000ha te staan gekom. Daarna het aanplantings effens terug gesak en kom nou op skaars 'n derde van die potensiaal vir die provinsie te staan.
Met die afplatting in nuwe aanplantings is dit opnuut weer die regte geleentheid om noukeurig na die produksiekoste en winsgewendheid van Canola te kyk. As 'n potensieel winsgewende wisselbougewas verdien Canola beslis meer aandag as wat sommige boere wil toegee.
Een van die grootste struikelblokke vir die uitbreiding van Canolaverbouing, destyds en vandag nog, is dat belangstellende boere nie altyd oor die nodige ekonomiese gegewens vir die verbouing van Canola beskik om betroubare bestuursbesluite te kan neem nie.
Intussen het 'n klompie slimkoppe verbonde aan 'n baie versiende organisasie in die noorde om 'n tafel vergader ten einde hul besorgdheid oor die groeiende tekorte aan proteïenryke oliekoek in die land, en veral die Wes-Kaap, te bespreek.
Daardie organisasie was die Proteïene-navorsingstigting (PNS) en hulle het besluit om 'n omvattende studie oor die ekonomiese potensiaal van Canola te doen. Dit was as't ware twee vlieë met een klap. Hulle sou hul oliekoek kry en boere 'n baie handige wisselbougewas indien die studie positiewe resultate oplewer.
Mnr Deon Joubert, voormalige hoofdirekteur: Ekonomie en Bemarking van die Deptement van Landbou in Pretoria, het aan die hoof van die studie gestaan.
(Die stigting stel grootliks in die oliekoek belang wat van die geperste sade van die olieryke Canola verkry word. 'n Ernstige tekort word vir die hele land voorspel.
En die resultate was uitermate positief. Na aanleiding van die inkomste- en kosteberamings wat uit die studie navore gekom het, was dit dadelik duidelik dat koring nog koning in die Swartland mag wees, maar dat Canola as kroonprins na vore getree het.
Onder meer is bevind dat, wat sowel die Swartland as die Overberg betref, daar weinig verskil is in die koste én inkomste om 'n hektaar Canola en 'n hektaar koring te produseer en te oes.
Dié syfers is nie sommer uit die lug gegryp nie. Die data vir die doel van die studie is van die verskillende landboubesighede in die Wes-Kaap verkry. Dit is gebasseer op tipiese en/of aanbevole praktyke wat in die provinsie gevolg word sowel as gegewens wat vanaf studiegroepe en tegniese beamptes verkry is.
Verskille het voorgekom gelang van die bewerkingspraktyke wat gevolg is en die soort gewas wat die vorige jaar op die betrokke grond verbou was. Dog, daar kon na die omvattende studie geen twyfel meer wees nie. Volgens die heersende pryse van beide gewasse tydens die studie vergelyk die bruto marge van Canola uiters goed met die van koring in sowel die Swartland as die Overberg.
(Vir doeleindes van vergelyking gebruik ons hieronder die syfers soos wat dit tydens die bekendstelling van die studieverslag sowat drie jaar gelede gegeld het. Dit is waarskynlik steeds die omvattendste studie wat oor Canola gedoen is.)
Met bykans R1 000/ha was die bruto marge vir beide koring en Canola in die Swellendam-Heidelberg omgewing by verre die beste, gevolg deur die ander gebiede in die Rûens waar dit vir Canola tussen R400 en R500 en vir koring tussen R130 en R200 per hektaar gewissel het.
In die Swartland was die bruto marge van Canola sowat R400/ha en koring tussen R330 en R650/ha gelang na die betrokke streek.
Die produksiekoste in die twee streke verskil aansienlik. In die Swellendam/Heidelberg-omgewing kos dit sowat R1 200/ha om sowel koring as Canola te vestig. In die res van die Rûensgebied wissel dit tussen R1 900 en R2300/ha vir beide gewasse. In die Swartland kos dit egter meer om koring as Canola te saai, onderskeidelik R1 700 en R1 300-R1 400/ha.
Die bruto marge van Canola vergelyk uiters goed met dié van koring in die Swartland en in die Rûens is dit selfs aansienlik beter. Wat meer is, die ekonomiese voordele van Canola in die wisselboustelsel is nie eens in berekening by die bepaling van hierdie bruto marges gebring nie.
Dit is reeds bekend dat koringopbrengs in die eerste jaar na Canola met tot soveel as 25 persent kan toeneem. Voorts verbeter kontantvloei met die inskakeling van Canola en help ook dat die boerdery-inkomste minder wisselvallig is. Die feit was waarskynlik nog nooit so gestaaf as juis nou met die groot skommelings wat met koringpryse en -opbrengste ondervind word nie.
Oor toekomstige afset van Canola bestaan die minste twyfel. Dit is omrede Canola eintlik twee produkte lewer, naamlik olie vir die voedselmark en proteïene vir veevoer. Dit kan ook in voerrantsoene gebruik word sonder om gepers te word of vir die maak van kuilvoer.